My Reis na Selfaanvaarding

Maandag, 3 September 1990. Ek onthou daardie dag soos gister. Ek was in ’n taxi-ongeluk en my hele lewe het in ’n oogwink verander. My nek was gebreek. Ná elf maande in die Conradie-hospitaal in Kaapstad is ek ontslaan – nie meer dieselfde as voorheen nie. Ek het huis toe gekom, fisiek gestremd, en met ’n hart swaar van onsekerheid.

As ek eerlik is, het ek nog altyd ’n lae selfbeeld gehad. Ek was al voor die ongeluk vol twyfel oor myself. Ná die ongeluk het dit net erger geword. Ek het altyd gewonder of ek ooit goed genoeg sou wees. Ek het in die spieël gekyk en nie gehou van wat ek gesien het nie – nie net die buitekant nie, maar ook hoe ek oor myself gevoel het.

Ek het probeer vorentoe beweeg. Ek het gaan studeer. Ek het goeie werk gekry, poste wat ander mense dalk sou beny. Maar binne-in het ek nooit regtig daardie trots of vrede gevoel nie. Altyd was daar daardie fluistering: “Jy is nie goed genoeg nie.”

En tog het iets stadig begin verander. Ek het geleer dat ek nie net my beperking is nie. Ek het begin sien dat daar meer in my is as wat ek myself toelaat om te glo. Ek het besef dat die swaarste las wat ek dra, nie my liggaam is nie – maar die bagasie van twyfel en skaamte.

Toe ek begin om van daardie bagasie ontslae te raak, het ek ligter begin voel. Ek kon asemhaal. Ek kon weer glimlag – nie omdat alles perfek was nie, maar omdat ek besef het dat ek nie my seer is nie. Ek is meer as my storie, meer as my stryd.

Vandag glo ek in myself. Nie elke dag nie – daar is steeds oomblikke van twyfel. Maar ek het geleer om sagter met myself te wees. Ek het geleer dat geluk nie wag vir wanneer alles reg is nie – dit begin die oomblik wanneer jy jou eie waarde erken.

My reis is nie klaar nie. Maar ek is vryer as ooit tevore, en vir die afgelope 10 jaar voel ek regtig: ek is genoeg.

Mooi loop

Roslyn 



Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Tussen Afskeid en Begin: Amber se Valedictory

Wanneer God jou vra om stil te bly: Gehoorsaamheid in die geheime seisoene

Matriekafskeid: Meer as net ’n aand van glans – Die krag van gemeenskap