God se Label oor Jou
In ons wêreld is “labels” amper onvermydelik. Jy kry dit van kleins af – party mense sien jou as slim, ander as stadig; sommige sê jy’s talentvol, ander dat jy nooit genoeg gaan wees nie. Met verloop van tyd begin hierdie woorde en etikette soos ’n tweede vel om ons vassit.
Die gevaar van hierdie mensgemaakte “labels” is dat dit ons identiteit kan steel. As iemand jou lank genoeg “onwaardig”, “gebrekkig” of “onbelangrik” noem, begin jy dit glo. Maar die waarheid is: mense se woorde oor jou is nie dieselfde as God se waarheid oor jou nie.
Mense se labels beperk – God se labels bevry
God kyk nie eerste na jou prestasies, foute of selfs jou omstandighede nie. Hy sien jou hart en Hy noem jou volgens wie jy ín Hom is. Waar mense dalk sê jy is “gebroke”, sê God jy is herstel (Psalm 147:3). Waar die wêreld jou as “minder” sien, sê Hy jy is sy uitverkore kind (1 Johannes 3:1).
Voorbeelde van God se “labels” oor jou
-
Geliefd – “Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde” (Jeremia 31:3).
-
Vry – “As die Seun jou vrygemaak het, sal jy waarlik vry wees” (Johannes 8:36).
-
Kosbaar – “Jy is kosbaar in my oë, geëer en Ek het jou lief” (Jesaja 43:4).
-
Nuutskepping – “As iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping” (2 Korintiërs 5:17).
’n Uitnodiging
Die uitdaging vir elkeen van ons is om te kies watter stem ons gaan glo: dié van mense wat beperk en vergelyk, of dié van God wat herstel, bemagtig en liefhet. Jou ware identiteit lê nie in die “labels” wat mense op jou plak nie, maar in die naam waarmee God jou roep.
Jy is nie gedefinieer deur jou verlede, jou tekortkominge of selfs jou vermoëns nie – jy is gedefinieer deur die Vader wat jou geskep en geroep het. En sy etiket oor jou is altyd: Myne.
Mooi loop
Roslyn

Opmerkings
Plaas 'n opmerking