Om relevant te bly

 

Ek dink die afgelope tyd baie oor hierdie ding van relevansie. Dis snaaks hoe dit my skielik meer begin pla namate ek ouer word. Nie omdat ek bang is vir ouderdom self nie, maar omdat ek soms wonder of ek nog genoeg bied – by die werk, by die huis, in die lewe.

In die werkplek sien ek dit die duidelikste. Daar kom nuwe stelsels in, nuwe maniere van dink, jong mense met vars energie en idees. Hulle praat oor goed wat ek nie altyd ken nie, en ek voel soms soos ’n toeskouer in my eie span. Dis maklik om in daardie oomblikke te dink: miskien het my tyd verbygegaan.

Maar toe besef ek – ek hoef nie alles te verstaan om nog waardevol te wees nie. Ek het iets wat nie sommer vervang kan word nie: ervaring. Ek kan kalm bly as dinge hand-uit ruk. Ek onthou hoe soortgelyke probleme in die verlede opgelos is. Ek weet hoe om mense te hanteer wanneer emosies hoog loop. Dis nie iets wat jy vinnig op ’n kursus kan leer nie. Ek weet dat nie elke probleem ’n kitsoplossing het nie. Ek bring kalmte, perspektief en stabiliteit. En dit, besef ek, is ook relevansie.

Ek probeer myself ook herinner om nuuskierig te bly. Ek vra eerder: “Hoe werk dit? Vertel my meer.” Wanneer ek dit doen, sien ek hoe ander dit waardeer. Hulle voel ek gee erkenning aan wat hulle weet, en ek leer terselfdertyd iets nuuts. Dit bou brûe in plaas van mure.

Nog iets wat ek besef: relevant bly beteken nie altyd om die hardste stem te wees nie. Soms beteken dit net om teenwoordig te wees. Om te luister, om jou ervaring te deel wanneer dit nodig is, en om mense te ondersteun sodat hulle self kan groei. Ek hoef nie die lig op my te hê om ’n verskil te maak nie.

So ja, ek is ouer. Maar ouer beteken nie afgeskryf nie. Ouer beteken ek dra ’n ander soort waarde. Ouer beteken ek hoef nie alles te bewys nie, ek kan net wees wie ek is – en dit bring ’n dieper sekerheid.

Ek dink vanoggend: solank ek liefhet, solank ek leer, en solank ek deel van die gesprek bly – sal ek relevant bly. Nie omdat ek alles weet nie, maar omdat ek steeds iets het om te gee.

Mooi loop

Roslyn



Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Tussen Afskeid en Begin: Amber se Valedictory

Wanneer God jou vra om stil te bly: Gehoorsaamheid in die geheime seisoene

Matriekafskeid: Meer as net ’n aand van glans – Die krag van gemeenskap