Wanneer jou hart terugloop huis toe -en kerk toe ook
Die afgelope naweek - spesifiek gister - was nie 'n goeie een nie. Dit was Vroue-jaarfees by UCC Chatty - my huis-kerk - en vir die eerste keer was ek nie daar nie,
Een van my kinders Stacey het vir my videos van die singende vroue met aunt Marlene Ruiters aan die voorpunt - gestuur en net soos Goeie Vrydag 'i cried like a baby'. My man was bekommerd omdat ek uiters hartseer was.
'n Jaar gelede is my tannie se skoonma Mammie Mac Gallant by die einste Vrouejaarfees vereer. Mammie stap al na 100 toe. En ek was daar.
Ons woon sedert 1 Maart in Jeffreysbaai waar kerk anders is as waar ek vandaan kom. Ek herinner myself gedurig daaraan om vir Jesus te soek en nie my tuiskerk in die nuwe gemeente nie.
Verhuis is altyd 'n kombinasie van opwinding en verlange. Jy kry nuwe strate om in te ry, nuwe mense om te ontmoet, nuwe roetines om te bou. Maar soms, wanneer die stilte van die aand kom, loop jou gedagtes terug na waar jy vandaan kom – na die huis wat jou hart ken, en die kerk waar jou siel rus gevind het.
En weet jy wat? Dis okay om te verlang.
Dis okay om die straatname van jou tuisdorp in jou gedagtes te herhaal, om te wens jy kon net weer saam met jou ou kerkkoor sing, om die gesels voor en ná die diens te mis. Dis nie ’n teken van ondankbaarheid vir waar jy nou is nie – dis ’n teken dat jy diep geleef het waar jy was.
Ons harte is soos tuine. Elke plek waar ons wortel geskiet het, los ’n deel van ons binne-in. Wanneer ons wegbeweeg, vat ons iets saam, maar ons los ook iets agter. Daarom voel dit soms asof ons ’n stuk van onsself mis.
Die geheim is om toe te laat dat die nuwe ook ’n tuiste word. Om die nuwe mense se name te leer. Om weer betrokke te raak, al voel dit ongemaklik in die begin. Om te glo dat God nie net in jou vorige dorp en kerk was nie, maar ook hier, op hierdie nuwe plek.
Verlange hoef nie jou vyand te wees nie. Dit kan jou herinner aan die mooi wat jy gehad het, en jou inspireer om weer mooi te skep. Want uiteindelik, of jy nou in jou ou kerkbank sit of in ’n splinternuwe gebou, God se teenwoordigheid is dieselfde – en dit is die grootste tuiste van almal.
Mooi loop
Roslyn
Vandag verwoord jy alles wat my hart ook die afgelope naweek gevoel het, my liewe Roos.
AntwoordVee uit