Die Prag van Onvolmaak-wees

 


In ’n wêreld waar perfektheid dikwels vereis word — foutlose lywe, blink CV’s, en lewens sonder vlek — voel dit soms asof ons eie gebreke ons diskwalifiseer van liefde, aanvaarding, of betekenis.

Wanneer ek soggens in die spieël , wil ek net al my hiperpigmentasie en donker kringe om my oë so gou as moontlik bedek. Koppel my ‘skewe’ liggaam daaraan en ek sweer die spieël lag vir my.

Maar wat as ek vir jou sê dat juis in jou onvolmaaktheid, daar prag lê? Dat jou krake nie jou skaamte hoef te wees nie, maar die plek waar God se lig die helderste kan skyn?

Ons het dit dikwels verkeerd verstaan: om waardevol te wees, moet ons eers heel wees. Om bruikbaar te wees, moet ons foutloos wees. Maar dan kyk ons na Jesus — en ons sien iets anders.

Hy het gekies om Homself te omring met vissers, tollenaars, twyfelaars, vroue met ’n verlede, en manne met swakhede. Sy liefde het nooit vir voorgee gevra nie — net vir oop harte. Hy het nie perfeksie geëis nie; Hy het dit geskenk.

"My genade is vir jou genoeg, want my krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is."

– 2 Korintiërs 12:9

Dít is die geheim: Christus se volmaakte liefde maak ons vry om onvolmaak te wees.

Ons hoef nie meer ons letsels weg te steek nie. Ons hoef nie elke gebed reg te sê, elke besluit reg te maak, of elke dag op ons beste te wees nie. Hy ken reeds elke deel van ons — selfs die dele wat ons self probeer vermy — en Hy het gekies om ons lief te hê, nie ondanks dit nie, maar dalk juis dáárdeur.

Hierdie waarheid maak ons vry.

Wanneer ons onsself sien deur Sy oë — nie as stukkende projekte nie, maar as geliefdes wat Hy met sy eie bloed verlos het — begin ons onsself ook anders hanteer. Met sagtheid. Met ruimte vir groei. Met genade.

Die prag van onvolmaak-wees is nie om in swakheid te bly nie, maar om toe te laat dat Christus se liefde daardie swakheid omskep in iets wat ander seer harte ook kan dra. Jou storie, jou stryd, jou littekens — hulle is nie ’n struikelblok vir God nie; hulle is ’n getuigskrif van Sy goedheid.

Mag jy vandag rus in hierdie waarheid: Jy is nie geroep tot perfeksie nie. Jy is geroep tot vryheid.

En dit begin nie by jouself nie — dit begin by Christus.

Mooi loop

Roslyn

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Wanneer jou hart terugloop huis toe -en kerk toe ook

Die pad met die minste spore

Vangnet