Eerste Indrukke: Daai Lewenslange Skuldigbevinding wat Niemand Herroep Nie
Weet jy wat is gevaarliker as ’n slegte haarstyl op jou ID-foto? ’n Eerste indruk.
Daardie oomblik waar iemand jou vir vyf minute sien, hul eie storie in hul kop skryf — en jy bly daai karakter vir die res van jou lewe.
Jy kan verander, groei, ’n PhD kry en nou “journaling” doen oor jou gevoelens… maar vir hulle is jy steeds daai een.
Jy het dalk in graad 10 een keer te hard gelag by ’n konsert — nou, 12 jaar later, dink mense jy’s “daai een wat soos ’n motoralarm lag.”
Of jy’t een keer jou hemp binne-buite gedra, en sedertdien is jy die menslike weergawe van ’n “system error.”
Ek bedoel, dis nou 2025. Ek drink groen smoothies, doen my belasting op tyd, en sê snaakse woorde sonder om te lag. En tog, êrens daar buite is iemand wat steeds glo ek’s daai kind wat haar sokkies in ’n mikrogolf probeer droogmaak.
Werk is net so erg. Jy sê op jou eerste dag: “Ek’s nie regtig ’n oggendmens nie.” En nou, jare later, kry jy elke oggend jou e-pos met die onderwerp: “Vir As Jy Eers Koffie Gedrink Het"
Of jy’t in jou eerste week stil gebly in ’n vergadering, en nou is jy “mister mysterious” — die een wat nooit praat nie (selfs al praat jy nou elke dag oor die printer wat alweer nie werk nie).
Mense hou van boksies, dis die waarheid. Dis makliker om te sê “sy’s altyd laat” as om te erken jy’t haar laas in 2017 gesien. Maar hey, party van ons het intussen ge-upgrade.
Daai ou wat altyd “onbetroubaar” was, bestuur nou ’n span.
Daai meisie wat “te stil” was, lei nou vergaderings.
En daai een wat “nie van groente hou nie” — sy plant nou haar eie spinasie en noem dit wellness.
So ja, mense mag my onthou as “daai een wat altyd vergeet waar sy haar sleutels neergesit het.”
Maar weet jy wat? Ek het gegroei.
Nou vergeet ek net waar ek geparkeer het.
Slotgedagte:
As jy iemand lanklaas gesien het — gee hulle ’n kans om jou te verras.
Hulle’s dalk nie meer “daai persoon” nie.
Hulle’s nou op version 3.2, met nuwe bug fixes en ’n beter attitude.
En jy? Jy kan dalk ook ’n software update gebruik.
Mooi loop
Roslyn

Opmerkings
Plaas 'n opmerking