Dis nie spog nie, dis coping – chill, mense!
Elke keer as iemand iets op sosiale media plaas – ’n mooi bord kos, ’n glimlag by die see, of ’n selfie met daai “ek het my lewe onder beheer” uitdrukking – is daar altyd een stem in die bondel wat sê:
> “Sjoe, kyk hoe brag sy alweer.”
Nee, Mavis. Ons spog nie. Ons oorleef.
Wanneer ek vir ek en Tony post is sy kommentaar: die mense gaan dink jy spog. My antwoord: 'Let them'.
Die wêreld is rof. Party dae is so moeilik dat
mens net vir vyf minute ’n mooi foto moet plaas om te onthou dat jy nog
bestaan. Dis nie ’n “soft life” nie, dis selfterapie met goeie beligting.
Wat jy sien:
’n Selfie met sonskyn, latte in die hand, filter
op “Golden Hour”.
Wat jy nie sien nie:
Drie ongeopende rekeninge op die kombuistafel, die kat op die stoof, en ’n innerlike eksistensiële krisis wat
sê: “Ek wil nie meer ‘n volwassene wees nie?”
Die waarheid oor “happy” posts
Mense wat lag op foto’s huil soms in
parkeerterreine.
Mense wat op ’n strand staan met arms oop na die
wind, probeer dalk net asemhaal tussen vergaderings, trauma en die poging om
nie vir die derde keer hierdie week pasta te eet nie. (en dan is jou
kommentaar: ai, dis mos ‘n lekker lewe)
Ons post nie omdat alles perfek is nie. Ons post
omdat ons probeer onthou dat iets, êrens, nog mooi is.
(En soms omdat die lig reg val en jy nie elke dag
so goed lyk nie, kom nou, give credit where it is due).
Slotgedagte
As jy iemand sien wat bietjie te veel “good vibes”
post, moenie dadelik dink dis spog nie. Dalk is dit net hulle manier om nie te
ontplof nie.
Want, kom ons wees eerlik — ons almal het daai
“Ek’s fine 😊”
gesig bemeester terwyl ons innerlik soos “Ctrl+Alt+Delete” voel.
So, volgende keer as jy enigiemand sien post oor
hul lekker dag, hou eerder jou “dis spog”-kommentaar of skinder vir jouself en
los sommer ’n hartjie. ❤
Want dalk is daai foto net die pleister op ’n baie
terrible dag.
Mooi loop
Roslyn

Opmerkings
Plaas 'n opmerking