'Flattening the curve'

 

17 Junie 2025

Kan dit wees dat ons vyf jaar gelede in die greep van die dodelike Corona-virus was?

En terwyl ons alles moontlik gedoen het om die kurwe te laat afplat [flatten the curve], en ons aan ‘n nuwe normal moes gewoond raak om die weerloses en hulle met onderliggende siektes te beskerm, is ons terug waar ons was pre-Covid.

Om die kurwe af te plat, is 'n openbaregesondheidstrategie wat bedoel is om die verspreiding van 'n virus te keer sodat die aantal mense wat gesondheidsorg nodig het, vertraag word en dat dié wat gesondheidsorgdienste verlang, dit oor 'n langer tydperk kan ontvang.

In alledaagse voorbeelde kan die afplat van die kurwe bloot beteken dat ons ‘n groeiende ‘trend’ vertraag om te keer dat die stelsel oorweldig word.

Die kilheid van die dood en die feit dat ons nie op die tradisionele manier van ons geliefdes kon afskeid neem, het geestelike en emosionele skade teweeggebring. Die kurwe is afgeplat, inentings [wat ook vir tweedrag gesorg het] is ontvang en minder mense het weens Covid-verwante komplikasies gesterf.

Ons is egter terug waar ons was. Ons het vergeet hoe 'devastating' die dood van geliefdes was. Ons neem steeds aanstoot, ons voel steeds dat alles 'n aanval op ons is en ons gebruik en misbruik weer mense om ons persoonlike mylpale te gebruik. Eintlik is ons erger as voor Covid.

In Gqeberha se noordelike areas is daar ‘n ander pandemie wat net aandag kry wanneer dit ons direk raak; bendegeweld.

Op Facebook lees ons gereeld ‘dit klap in Katokio’ of dit klap in die Ark’. En dan die vraag ‘wanneer gaan dit stop?’ of die uitroep ‘Here tree in’.

Gaan daar ‘n volgende generasie jongmans wees as ons kyk na die koers waarteen hulle uitgeroei word?

Wanneer gaan dit stop? Hoe moet ons maak of ‘n bydrae lewer dat hierdie kan afplat?

Die Kerk is notoriously stil oor die euwels op ons voorstoep wat ons ingryping nodig het. Het ons moed opgegee?

Is dit te laat vir die kurwe om af te plat? Is die stelsel nie alreeds oorweldig nie?

Of moet ons wag dat die Here intree?

 

Mooi loop

Roslyn

 

 

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Wanneer jou hart terugloop huis toe -en kerk toe ook

Die pad met die minste spore

Vangnet