Nie 'n mamma nie; 'n geestelike vroedvrou

 


Vadersdag is onlangs gevier. Vaders voel daar is nie so baie ‘hype’ oor hul spesiale dag as met Moedersdag nie. En hoekom sou ons nie ‘n bohaai maak nie?

Dis die Ma wat die hart van ‘n huis is. Wanneer ‘n ma sterf is dit asof die huis leeg en kaal is.

Na my ma se sterfte toe ek 39 jaar oud was, was Moedersdag nie altyd dieselfde nie. Party jare is sagter as ander. Vanjaar was dit weer moeilik. Ek vier die Moeders in my lewe jaarliks op Moedersdag.

Kerk toe gaan op die dag is ietwat ongemaklik, want geskenke word aan ma’s uitgedeel en hoewel mense dan sê ‘staan, want jy is ‘n ma vir baie kinders’, is daar ‘n traagheid binne-in my om dit te doen. My baarmoeder was nog altyd leeg; lewe het nie daarin gegroei nie en ek het nie ‘n kind voel kom of ‘n kind aangeneem nie.

Ek het ‘n paar jaar gelede my kleinneef en -niggie na ‘n kinderpartytjie geneem. En iemand wat weet dat ek nie biologiese kinders het nie, vra my by die geleentheid ewe sarkasties ‘waar is jou kind?’ 

En dis ook om hierdie rede dat ek soms ongemaklik voel.

Tog is daar kinders en jongmense wat my Mumzo noem en na my uitreik om deel van mylpaalgeleenthede in hul lewens te wees.

En so twee of drie jaar gelede kom dit by my op: ‘Ros, jy is nie ‘n ma van biologiese kinders nie. Jy is ‘n geestelike vroedvrou.”


Die rol van ’n vroedvrou is baie belangrik tydens die geboorte. Sy staan jou die hele proses deur by en maak seker dat jy ontspanne is. Sy stel jou gerus en gee leiding en ondersteuning. Jou vroedvrou is jou steunpilaar – tydig en ontydig, dag en nag.

En dis wat ek probeer wees vir kinders wat nog kinders is; iemand wat geestelike leiding gee en die jongmense deur moeilike en druk-prosesse te bid en te ondersteun totdat hul drome en visies 'n werklikheid word. Ek vervang nie hul ma’s nie; ek is ‘n vroedvrou.

So, vir enigiemand wat in my Whatsapp-groep is; wees die geestelike vroedvrou. Dis dalk net wat die kinders en jongmense in hul lewens nodig het.

Mooi loop

Roslyn

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Wanneer jou hart terugloop huis toe -en kerk toe ook

Die pad met die minste spore

Vangnet