Dit maak nie saak of jy wen of verloor nie; solank jy eerste kom

 

Onthou u die dae toe ons speletjies gespeel het en daar moes spanne gekies word. En onthou u daai gebed ‘asseblief moenie laat ek laaste gekies word nie’.

Dan was daar die dae  van atletiek en hoe u dalk altyd laaste gekom het. Dan was daar niemand om u aan te moedig nie, want wie skree nou vir die verloorder?

Ek was nie ‘n hardloper nie. Ek kan dit in elk geval nou ook nie doen nie. My beentjies was te kort vir hoog- of verspring. As ek vir enige speletjie gekies sou word, sou dit beteken dat die span sou verloor; ver verloor.

Ons hou van wen en ons hou van wenners. Ons het nie altyd die geduld vir verloorders nie.

Een van my vriende Andrew Kock het die volgende woorde van sy ma gedeel: Dit maak nie saak of jy wen of verloor nie, solank jy eerste kom.

So, in die lewe van wen en verloor, gaan daar altyd iemand wees wat nie eerste gaan wees nie. Hoe ons dit hanteer spreek natuurlik boekdele.

Aan die wenners en hul ondersteuners: skree vir ‘n slag vir die wat laaste kom. Hulle het die applous dalk meer nodig as die wat eerste kom.

En in die proses van 'wins and losses', kom eerste en kyk na die manière hoe ons die wen en verloor van onsself en van andere, hanteer.

Mooi loop

Roslyn



Opmerkings

  1. Dis vir my een van die mooiste goed...die mense wat vir dié wat laaste kom, cheer. As onnie is daai vir my ook noodsaaklik, om die een wat nie top is nie, aan te moedig! Dankie vir dié.

    AntwoordVee uit

Plaas 'n opmerking

Gewilde plasings van hierdie blog

Wanneer jou hart terugloop huis toe -en kerk toe ook

Die pad met die minste spore

Vangnet