Omdraaipaaie en vashaak-paaie.
20 Mei 2025
Op Vrydag, 16 Mei is ons vroeg op, want 05:30 [op die laatste] gaan ons in die pad val George toe. So gemaak, en ons eerste stilhou-plek is -soos altyd - by die Tsitsikamma Petroport.
Na 'n koffie en gemaksbreuk, sien Tony iemand wat hy ken. Daar haak ons vas. Ek herken die man se vrou, Gail Thomas, en daar word 15 minute toe 45 minute op 'n vashaak-pad.
Na nog vashakery by die 'stop 'n go' tekens vir padwerke tussen Stormsrivier en die tolhek, bevind ons onsself in 'n omdraaigedoente. Die rede: ons kan nie met 'n debietkaart betaal nie. Ek bespeur 'n ongemaklikheid by Tony en skakel net daar die radio af. Ek bid en vra God vir kalmte en dat ons nie moet vergeet dat ons vir reisgenade gebid het nie. En dat die dinge deel van die reisgenade was. Ons moes net aanvaar dat ons laat gaan wees vir die byeenkoms.
Twee stop 'n go's [Stormsrivier Village toe en terug] later en ons is uiteindelik onderweg na ons kinders. Maar wat ons nie geweet het nie is dat nog vertragings wag. Die padwerke op die Kaaimansrivierpas was nie vir die broses-van-hart nie. Ons is teen 'n slakkepas daardeur.
Omdraaipaaie en vashaak-paaie ten spyt, ons het my ons bestemming uitgekom; padvoos en effens later, maar daar het ons uitgekom.
En dalk is jou reis op die lewenspad vol omdraaipaaie, vashaakpaaie, stop 'n go-tekens, en is daar 'n ongemaklikheid oor die slakkepas van die reis.
Byt vas. Jy voel dalk 'you are going nowhere slowly'. Maar, wanneer jy daardeur is, sal jy dankbaar wees vir die genade wat jy op die reis ervaar.
Mooi loop
Roslyn
Opmerkings
Plaas 'n opmerking