Guy Fawkes in Gqeberha

Elke jaar op 5 November hoor jy oral in die buurt daai “BOOM!”, gevolg deur ’n hond wat besluit om onder die bed in te trek tot Kersfees. Dis Guy Fawkes-aand, wanneer mense in die donker bymekaar kom om te doen wat menslike beskawing al vir eeue doen: iets opblaas in die naam van geskiedenis.

Maar wie was hierdie ou Guy Fawkes nou eintlik – en hoekom brand ons nog vuurwerke vir hom, honderde jare later? Kom ons steek die lont aan en kyk.

Die Groot Plan wat Nie So Lekker Gewerk het Nie

Dis 1605 in Engeland. Die koning is James I, en ’n groep Katolieke manne is gatvol vir hoe dinge loop. Hulle besluit: “Kom ons blaas die parlement op!” (Ja, want niks sê “vrede op aarde” soos 36 vate buskruit nie.)

Enter Guy Fawkes – die man wat gekies is om die lont aan te steek. Miskien omdat hy dapper was… of dalk omdat hy die enigste een was met goeie beligting in sy kelder.

Spoiler alert: hulle plan flop harder as ’n 'failed' video op TikTok. Fawkes word gevang met die lont in sy hand, en die res is geskiedenis… of eerder rook en trane.

Hy sou nooit kon dink dat aan die suidpunt van Afrika hy met vuurwerke en buitebande geassosieer sou word nie

In Engeland het hulle vuurwerke. In die noordelike areas van Gqeberha het ons... vuurwerke én buitebande. En nie sommer klein vonkies nie — nee, hier word paaie toegemaak met ‘n passie wat selfs die oorspronklike Fawkes sou laat glimlag. As daar rook is, is daar  kinders wat skree “Jirre kyk daai een!”, en tannies wat sê: “Ag, los die kinders.”

Dis nie net ’n aand van “Remember, remember, the fifth of November” nie — dis ’n hele event. Die buurt se strate lyk soos ’n mengsel van Fast & Furious: Schauderville Drift Edition en Survivor: Chatty Blaze.

En as jy probeer slaap? Vergeet daarvan. Jou hond, jou kat en jou buurvrou se papegaai beleef kollektiewe trauma tot minstens die 7de November.

So as jy hierdie November deur Gqeberha ry en rook sien hang oor Bethelsdorp, Gelvandale of Shauderville — moenie paniekerig raak nie. Dis net die mense wat, op hul eie manier, sê:

💥 “Remember, remember..."

Mooi loop

Roslyn



Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Tussen Afskeid en Begin: Amber se Valedictory

Wanneer God jou vra om stil te bly: Gehoorsaamheid in die geheime seisoene

Matriekafskeid: Meer as net ’n aand van glans – Die krag van gemeenskap